About Us
My Hartjie My Liefie is nie NET ons klein besigheid van natuurlike produkte nie, dit is iets veel veel meer. Dit is ‘n droom gebore in ‘n man se hart, dit is ons liefde vir die natuur en wat die natuur alles vir ons bied, dis ‘n stadige en geduldige proses van bou aan iets groter as onsself, dis ‘n dankbaarheid hier binne ons om ons produkte vir elke bestelling mooi te verpak en ‘n absolute lekkerte om dan weer die positiewe terugvoer van ons kliënte te ontvang. MAAR meer as alles dit is My Hartjie My Liefie ‘n nalatenskap of “legacy” vir die wat ná ons kom om voort te bou op wat reeds is. Om met enige iets te boer beteken om naby die Here te leef en afhanklik te wees van Hom vir Sy goedheid en Sy genade elke dag en om geduldig op Hom te wag vir die vrug van ons arbeid. My Hartjie My Liefie was JOU droom my liefste man. JY het dit begin en JY het dit gedryf omdat jy in ons produkte geglo het. Jy is nie meer hier nie en ons harte is seer, maar jy het vir ons hierdie wonderlike mooi “legacy” nagelaat om op voort te bou vir ons nageslag. Hierdeur sal ons altyd herinner word aan wie jy was. Dankie daarvoor!
Al ons My Hartjie My Liefie produkte word op ons kleinhoewe, Morgensrust in Joostenbergvlakte geplant, gegroei en vervaardig. Van ons produkte sluit in Engelse (Margaret Roberts) Laventel, Franse (Dentata) Laventel, Olyfbome, Roosmaryn, Bloekombome (Eucaluptus) en Roos Geraniums. Ons pragtige warm sakkies gevul met die heerlikste Laventel en Roos Geranium olie, droomslopies (of Dream Pillows), droërsakkies en sakkies om in jou kas te bêre tussen jou klere, linne of jou mooiste tafeldoeke word met die hand gemaak en gevul met ons eie gestroopte Laventel blommetjies. Ons gewilde oog slopies (eye pillows) is veral gepas vir oë wat moeg is van heeldag op rekenaarskerms konsentreer of vir kloppende hoofpyne. Ons het ook in 2022 met ons Mamma en baba reeks begin omdat Laventel ‘n wonderlike strelende en kalmerende effek op sowel Mamma en baba het. Loer gerus hierna vir jouself of as geskenk vir ‘n baba tee van ‘n vriendin. Ons het ook die mooiste geskenk boksies met variasies van ons produkte spesiaal vir jou verpak. As spesiale versoek van die dames vir ons manne, het ons ook nou warm sakkies en geskenkboksies spesiaal verpak vir ons manne met heerlike warm vanilje en sandelhout geure. Kyk ook uit vir ons handgemaakte seep en kers reeks. Spesiaal vir ons bruide stroop ons Laventel blommetjies vir bio afbreekbare confetti en tel ons versigtig al die helder pienk en wit bougainvillea blaartjies op sonder dat hulle kneus of breek vir die heel mooiste helder pienk bio afbreekbare confetti.
Ons hoop jy geniet jou kuier op ons aanlyn winkel en dat elke oopmaak van jou My Hartjie My Liefie pakkie vir jou pure vreugde sal bring en jou hart sal laat warm klop van lekkerte.
Dankie dat jou ondersteuning ons help om elke dag aan ons “legacy” te bou.
Laventel Liefde-Groete
Leza